Dit was ‘n Maandagoggend net na saalopening. Die graad 10’s wag vir die spreker van die oggend. Dit praatjie gaan oor gelukkige gesinne. Ek onthou nie die detail nie maar wel díé woorde “Kyk om julle, een uit elke drie van julle gaan skei”.
In my wildste drome het ek nie gedink ek gaan deel wees van díé statistiek nie.
Maar hier is ek vandag. ‘n Mamma van ‘n saamgestelde gesin (4 tieners!) en dankbaar vir ‘n tweede kans op geluk.
Ek is eerlik; dit is nie aldag maklik nie maar ek verruil “ons 6” vir niks nie! Gelukkig kom mens ver met ‘n tikkie humor en ‘n ingesteldheid van “kies om die positiewe raak te sien”.
Terwyl ek die skryf dink ek aan die mamma’s wat dalk bekommerd is of moedeloos voel oor hulle huidige situasie en wonder of dit ooit gaan beter raak. Jy was aanvanklik so opgewonde oor die nuwe begin, al die drome van geluk… wat dalk nou onmoontlik voel. Jy twyfel selfs of dit die regte besluit was.
Ek wil jou gerusstel. Die oorgang van die oud na die nuwe is nie altyd maklik nie. Maar, daar is verseker voordele. Kinders wat groot word in saamgestelde gesinne leer van vroegs af om aan te pas by nuwe mense en nuwe omstandighede.
Ek deel graag ‘n paar riglyne wat julle kan oorweeg.
Maak gesinstye ‘n prioriteit
Gesinswaaardes is krities. Betrek die hele gesin en praat waaroor julle ononderhandelbaar is. Ons kinders moes van jongs af geleer het om met respek van mekaar te verskil. Dalk omdat ons almal reeds hartseer en swaarkry beleef het, is dit makliker om te kies om met sagter oë na mekaar te kyk. Dit was belangrik om ‘n tuiste te skep waar elkeen voel sy menswees word gesien en gehoor. ‘n Groot deurbraak in ons gesin was toe die kinders besef het dit is aanvaarbaar om presies te sê wat jou mening is – veral as hulle nie aan ‘n spesifieke aktiwiteit wou deelneem nie.
Skep gesinstradisies.
Vier die klein dingetjies. Prioritiseer alleen kwaliteit-tyd met jou kind. Kinders van alle ouderdomme reageer op lof en aanmoediging. Alhoewel dit belangrik is om as gesin aktiwiteite saam te doen, is dit noodsaaklik om spesiale alleentyd met jou biologiese kinders te spandeer. Laat die kinders kies wat julle moet doen; dit sal die kinders herinner hulle is steeds belangrik al was daar ander veranderinge.
“Perfek” kan maklik ‘n blindekol word.
Wees realisties en weet daar gaan hobbels in die pad wees. Die lewe van ‘n saamgestelde gesin is opwindend maar het uitdagings, so moenie perfeksie verwag nie. Stel jou verwagtinge inlyn met die realiteit. Die gevoel van verlies is normaal tydens verandering en elkeen moet tyd gegun word om aan die “nuwe gesin” gewoond te raak. Vra vir hulp wanneer jy vashaak. Ons beste belegging was ‘n ouerskapleidingskursus – as ouers kon ons met selfvertroue enige situasie waar “iemand uit balans is” hanteer. Die praktiese les wat ons geleer het was om baie bewus te wees van die woorde wat ons gebruik. In plaas van om te sê ”hou op huil”, sê dalk eerder “ek sien jy is ontsteld”.
Ja, dit neem ‘n gemeenskap om ‘n kind groot te maak en dieselfde is waar vir saamgestelde gesinne. Familie en vriende besef dalk nie watter groot verskil hulle begrip vir ongemaklike oomblikke maak nie. Hulle reaksies en geen oordeel tydens kuiers en byeenkomste is kragtig.
Kinders moet nie betrokke wees in konflik tussen ouers wat geskei is nie. Maak hul veiligheid (emosioneel, fisies en geestelik) ‘n prioriteit. Wat kinders regtig wil hê is dat hulle ouers in samesyn kan saamwerk; so fokus om ‘n gesonde verhouding met jou “eks” te bou. Maar, dis nie altyd moontlik is nie; hanteer mekaar dan tenminste met respek en moet mekaar nooit agteraf afkraak nie.
Gun elkeen sy spasie. Die skep van ‘n oop en eerlike omgewing vry van verwagtinge, het ons gehelp om nuwe bande te smee. Dit is belangrik dat elke lid van die gesin weet situasies word uit hulle persektief gesien. Ons seuns is ewe oud en in dieselfde graad. Wat vir ons gewerk het was om die kinders in aparte skole te hou. Dit verg wel meer beplanning en brandstofgeld maar dit het verseker tot minder onderlinge kompetisie gelei.
Koester jou huwelik. Volgens ‘n studie van meer as 50 000 saamgestelde paartjies, is die handhawing van pret in die huwelik die groot voorspeller van ‘n hoë-gehalte verhouding. Die beste deel van ‘n saamgeslede gesin is kwaliteittyd elke tweede naweek (as die kinders by die ander ouers is!).
“Ons 6” se praktiese wenke is:
• Eet saam, droom saam en lag saam; ons besluit elke jaar wat is opwindende nuwe projekte wat ons gaan aanpak of plekke wat ons graag wil besoek.
• “Kommunikasie, kommunikasie, kommunikasie” is ons oudste dogter se wenk. Dit is nie net van toepasing in konflikhantering nie maar veral in die alledaagse aktiwitiete en gebeure.
• “Familietradisies” is een van ons seuns se wenk. Dit is die fondasie van ‘n gesin. Hy sê die wintersaande om die kaggelvuur is sy gunsteling. Bygesê, hy wens ons kan meer saam kaart speel.
• Ons ander dogter sê weer “Moenie kla nie, moenie skinder nie en moenie bekommer nie, BID net”.
• En op ‘n ligter noot sê ons ander seun: “Moet nooit iemand anders se lekkers eet nie…”
As ouers, bied julle vir die kinders ‘n ongelooflike geleentheid om hul eie toekomstige verhoudings op ‘n nuwe een te modelleer.
Met geduld, liefde, deernis, wedersydse respek en gewilligheid kan ‘n saamgestelde gesin ‘n wonderlike reis wees. Maak die beste van julle tweede kans op geluk!
*** Boek bydrae: Gelukkig Jy, Gelukkige Gesin – Carpe Diem Media
