Jy sit in ‘n fliek. Jy is die hoofkarakter in die film wat tans vertoon.
Wat gaan deur jou gedagtes?
Is jy tevrede met hoe die verhaal tans afspeel? Is daar iets wat jy sou verander?
Stem jy saam met die besluite wat die hoofkarakter neem? As jy raad kan gee, wat sal dit wees?
In ons bedrywige lewe, is verandering ‘n konstante. Druk, uitdagings en onsekerheid kan jou beïnvloed en dan is dit maklik om te vergeet om die pouse knoppie te druk en asem te haal.
Jy is uniek. Besef jy, dat jy alles het wat nodig is om uitnemend te wees? Omhels jy hierdie gedagte ten volle?
Word ‘n oomblik stil en besin oor wat werklik vir jou saak maak. Watter aanpassings is nodig om te fokus op dit wat vir jou belangrik is? Wanneer laas het jy gedink oor wat jy wil bereik? Watter van jou drome is begrawe en het jy al vergeet? Indien een van jou ambisies ‘n gewaarborgde realiteit kan wees, watter een sal jy kies?
Jy is een besluit weg van die lewe, loopbaan en verhouding wat jy wil hê. En net jy kan daardie eerste stap en besluit neem. Die tyd is nou…begin dans op die ritme van jou siel.
Ons kruip te maklik agter ons omstandighede weg en kies om iets of iemand die skuld te gee as dinge nie uitwerk nie. Jy kan nie jou omstandighede beheer nie, maar jy kan wel kies hoe jy in daardie omstandighede gaan optree.
Dit is dieselfde met ‘n ambisie of droom wat jy wil bereik. Dit is in jou eie hande; net jy kan kies om die eerste stap te neem. Die huidige oomblik is die belangrikste; die besluite wat jy vandag neem, beïnvloed jou toekoms.
Dalk wil jy wag vir alles om “perfek” te wees voordat jy begin. Soms hou jou vrees vir mislukking jou terug. Ons twyfel maklik in ons eie vermoë en is onnodig krities op onsself. Die beste is om net te begin… Stap uit jou gemaksone. Met toewyding en dissipline kan jou drome ‘n realiteit word. Gaan dit maklik wees? Nee, nie altyd nie, maar dit gaan die stap werd wees!
Hierdie wenke kan jou inspireer om die eerste stap te neem:
Wees baie spesifiek oor wat jy wil bereik. Maak seker dit is in lyn met jou passies, prioriteite en doel vir jouself en jou lewe. Onthou, wees vasbeslote oor jou doelwit maar buigsaam oor hoe jy daarby uitkom.
Wees goedgesind en liefdevol teenoor jouself. Let op jou gedagtes en die woorde wat jy gebruik, veral teenoor jouself. Jy is net ‘n mens en almal maak foute. Fokus eerder op die lesse wat jy uit ‘n situasie leer, nie die foute nie.
Definieer jou grense. “Nee” is ook ‘n antwoord – gebruik dit. Wanneer jy duidelikheid het oor jou grense, is dit maklik om te antwoord: “hierdie is nie vir my ‘n prioriteit nie.”
Elke emosie maak saak. Soos ‘n hartklop se ritme op en af gaan op ‘n grafiek, so is die lewe ook soms “op en af”. Erken jou emosie, gee dit ‘n naam maar wees versigtig om nie daarin vasgeval te word nie. Vra jouself “wat beteken die emosie en hoe kan ek dit gebruik om nader aan my doelwit te beweeg?”.
Vier jou suksesse, maak nie saak hoe klein die vordering is nie. Bly toegewyd, geniet elke oomblik en moet jouself nie te ernstig opneem nie.
Ons is wat ons herhaaldelik doen. So, doen altyd jou beste. “Uitnemendheid is daarom nie ‘n aksie nie, maar ‘n gewoonte.”
***Boek bydrae: Maak dit gebeur. Maak dat dit saak maak. Carpe Diem Media
