Ek onthou so duidelik die reuk van my kinders se pasgebore asempies – hoe perfek hul lyfies geskape was en my dankbaarheid vir die groot geskenk om hul Mamma te wees.
Watter geleentheid in jou lewe was dit maklik om dankbaar te wees?
Dalk die oomblik toe jou droomvakansie ‘n realiteit geword het? Of dalk toe jy jou studies sukesvol voltooi het of die dag toe die man van jou drome jou gevra het om met hom te trou? Dalk ‘n verjaarsdag toe jou vriendinne jou verras en bederf het of sommer net lekker-lag kuier oomblikke saam met geliefdes. Vir elkeen van ons is dit iets anders.
Die lewe bring egter uitdagings op tye wat ons dit die minste verwag en ons realiteit is ‘n mengsel van positiewe en meer uitdagende situasies tuis en by die werk.
Hoe bly ons dankbaar in die tye wanneer ons moeg, ontsteld of bekommerd is? Ons is geneig om eerder op ‘n ideaal in die toekoms te fokus in plaas van op die huidige oomblik. Die geheim is juis om te fokus op die “nou”.
Wees intensioneel en gaan kyk wat is daar in die huidige oomblik waarvoor jy dankbaar is.
Dankbaarheid bemagtig ons om die lewe met vars oë te sien, elke oomblik, elke dag.
Dankbaarheid verander ons uitkyk op die lewe en ons benadering tot ander mense. Dis voordelig vir die liggaam en siel en kan verhoudinge transformeer. Ons brein vertaal gedagtes van dankbaarheid in positiewe biochemiese en neurologiese veranderinge in ons liggaam.
Maar hoe vestig ons dankbaarheid as ‘n gewoonte? Hoe word dit ons lewensbenadering? Is dit moontlik dat ons kan leer hoe om ons dankbaarheidsbatterye te herlaai? Ja, ons kan. Hier is ‘n paar idees:
• Begin ‘n dankbaarheidsjoernaal en gebruik dit daagliks.
• Verhoog die aantal kere wat jy vir iemand sê jy is lief vir hulle
• Raak betrokke by ‘n liefsdadigheidsprojek
• Kies een dag ‘n week om oor niks te kla nie
• Omhels uitdagings en sien dit as geleenthede vir groei
• Maak dankbaarheid ‘n familietradisie. Begin ‘n dankbaarheidsboks waar julle as gesin die items wat julle voor dankbaar is neerskryf, en elke jaar op ‘n spesifieke datum oopmaak
• Bel in ‘n bejaarde familielid of vriend en sê dankie vir hul teenwoordigheid in jou lewe
• Sluit elke dag af met “Vandag is ek dankbaar vir…”
Ware dankbaarheid is egter die gevoel van tevredenheid in die huidige oomblik. Dis wanneer jy leer om die pad te vertrou. Bekommernis is ‘n aksie. Dankbaarheid is ‘n aksie. Beide is ’n keuse. Deur dankbaarheid te kies, verdryf jy die spasie en tyd vir bekommernis.
Die huidige oomblik is die enigste plek waar vreugde en tevredenheid in dankbaarhied kan bestaan.
Wat kan jy kies om jou dankbaarheid in die huidige oomblik te wys en die “nou” as voldoende te ervaar?
Oefening
Wanneer jy dankbaar is en dit nie sê nie, is dit soos om ‘n geskenk pragtig toe te draai maar dit nooit te gee nie.
Lys drie mense met wie jy jou dankbaarheid wil deel. Wees baie spesifiek oor wat jy van hulle waardeer en hoe daardie eienskap jou menswees positief beїnvloed. Maak ‘n afspraak en deel jou dankbaarheid met hulle – dis ‘n groot geskenk vir beide van julle.
*** Boek bydrae: Elkedaagse Geluk – Carpe Dien Media
